Die inperkingsmaatreëls is verslap, die eiendomsbedryf is oopgestel en eiendomsagente sal eersdaags weer skoudae kan hou om huise aan voornemende kopers te bemark – met sosiale afstandhouding as prioriteit, natuurlik! Kenners meen egter dat hoewel skoudae ’n baie doeltreffende wyse is om eiendom te bemark, die regte maatreëls in plek moet wees om die eiendom en die verkoper se waardevolle besittings, sowel as die agent en almal wat die huis besoek te beskerm.

“Voor die huis besigtig word, word alle besoekers ondervra en gevra om ’n verklaring te onderteken. Binne die eiendom moet streng maatreëls gevolg word, soos om ’n masker te alle tye te dra, sosiale afstand te behou en jou hande gereeld te reinig,” verduidelik hy in ’n verklaring.

Benewens vir die gesondheid van die eiendomsagent en die voornemende kopers wat die huis besoek, is dit ook belangrik om behoorlike veiligheidsmaatreëls in plek te hê

Wenke vir eiendomsagente en verkopers

As iemand namens jou agent instaan op skoudag, dring aan daarop om die persoon vooraf te ontmoet en die reëlings vir jou huis te bespreek.

As daar ’n paniekknoppie in jou huis is, maak seker dat die agent toegang daartoe het – sowel as die noodnommer vir jou sekerheidsmaatskappy.

Stel jou sekerheidsmaatskappy in kennis dat jou huis geskou word en vra hulle om deur die loop van die middag ’n draai daar te gaan maak.

Moenie enige spaarsleutels (vir die agter- of stoepdeure of die motorhuis) laat rondlê nie.

Enige waardevolle items wat maklik in ’n handsak of ’n broeksak kan pas, moet liefs veilig weggesluit bly. Onthou net dat laaie en badkamerkassies vinnig oopgemaak en deursoek kan word, só maak seker dat daar geen waardevolle items daarin is nie.

Bêre enige groot toestelle, gereedskap of toebehore wat nie op die skoudag nodig is nie, om boewe te ontmoedig om later na jou huis terug te keer wanneer niemand daar is nie.

Maak al die gordyne en blindings oop of skakel die ligte in al die vertrekke aan.

Dit is belangrik om jouself (agent, verkoper) op die skoudag só te posisioneer dat jy al die besoekers se motors kan sien soos hul arriveer. Maak notas van die registrasienommers, sowel as die motor se model. Moenie die voordeur oop los terwyl jy besoekers deur die huis neem nie. Maak seker dat die huis se interkom, gonser of klokkie werk.

Oorweeg om ’n skoudag aan te bied wat slegs op afspraak is. Dit verhoed dat groepe besoekers op dieselfde tyd opdaag – ’n belangrike oorweging gegewe die Covid19-pandemie en die gesondheidsrisiko’s vir mense.

As daar wel ’n besoeker opdaag terwyl jy nog met iemand besig is, moedig hulle aan om deur die tuin te loop of die besoekersboek in te vul om tyd vir jouself te koop.

Vra jou sekerheidsmaatskappy of hulle dalk ’n spesiale paniekknoppiediens aanbied wat met jou selfoon werk. Dit is iets wat jy heeltyd by jou kan hou terwyl jy aan diens is.

WEES ASSEBLIEF VEILIG

VERONICA DE KOCK BIG TACKLE EIENDOMME 083 352 4850